
Kyk uit vir Gift wat Sondag 12 Maart op Pasella gaan verksyn.
JOHANNESBURG. – “Ek weet nie eens waar is noord of suid nie.”
Só sê Gift Gwe, naaswenner van Idols 2005, oor Johannesburg nadat hy verlede week van Kaapstad af hierheen getrek het.
Gwe bly op die oomblik in ’n woonstel in Grayston in Sandton en het hierheen getrek omdat hy glo baie meer gereeld vertonings hier het as in die Kaap.
“Ek is nog glad nie gewoond aan die paaie hier nie. Jy vat die een afrit, maar daar is nie weer ’n oprit nie,” sê hy.
Benewens al die nuwe dinge waaraan Gwe nou moet gewoond raak, is sy hart bitter seer oor die liefde in sy lewe wat in die Kaap moes agterbly.
“Ek wil nie haar naam noem nie. Die trekkery is vir haar baie moeilik. Ek is baie besig, maar ek kon gelukkig Valentynsdag saam met haar in Kaapstad wees.”
Hoewel hy baie vroulike aanhangers het, is Gwe oortuig daarvan dat hy nie voor verleidsters sal swig nie.
“Wanneer ek op die verhoog is, raak die meisies gewoonlik mal en skree allerhande goed soos dat hulle jou liefhet.
“Hulle almal soek jou aandag, maar die verantwoordelikheid om getrou te bly berus by elke persoon self en ek sal getrou bly.”
Gwe het drie tot vier vertonings ’n week en is gister genooi as gas op die televisieprogram Pasella. Die program is gister opgeneem en Gwe moes ’n seerower-kostuum dra.
“Dit gebeur alles regtig nou en alles val in plek. Ek is baie opgewonde oor my loopbaan.